Die Springbok Openbare Orde Polisie, B-Platoon-lede het inligting opgevolg en op beweerde dwelmhuise in Nababeep toegeslaan.
Dit het gelei tot die arrestasie van vier manlike verdagtes en die beslaglegging op dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van R181 035-00.
“Op Donderdag (25/07/2024), omstreeks 20:40 het die polisie ‘n perseel deursoek en beslag gelê op Crystal Meth (Tik) van ongeveer R139 500-00, Dagga ter waarde van ongeveer R5475-00 en Mandrax van ongeveer R36 060-00,” het Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Luitenant Kolonel Sergio Kock gesê.
Die polisie het ook beslag gelê op ‘n onbekende bedrag kontant wat vermoedelik opbrengs van dwelmhandel is.
Die polisie het vier manlike verdagtes van tussen 22 en 43 jaar oud in hegtenis geneem vir die handel in dwelms.
Die verdagtes sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn.
Dwelmverwante misdade bly ‘n prioriteit in die provinsie, en die polisie sal voortgaan om pogings te versterk om die handel in dwelms te stop.
