Twee polisie beamptes wat by die Kimberley-landdroshof gestasioneer is, is Maandagoggend (19/08/2024) op aanklagte van korrupsie, regsverydeling en diefstal in hegtenis geneem.
Daar word beweer dat die beamptes omkoopgeld ontvang het in ruil daarvoor dat hulle smokkelgoedere, insluitend wapens en dwelms, aan verdagtes in die aanhoudingselle verskaf het.
Die Suid- Afrikaanse polisie se provinsiale woordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, het gesê die twee lede, wat albei sersante en 43 jaar oud is, is deur die provinsiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid in hegtenis geneem.
“Daar word beweer dat die paar geld ontvang het omdat hulle gevangenes van pakkies in die aanhoudingselle by die hof voorsien het. Ondersoeke duur voort,” het Ehlers gesê.
Die waarnemende provinsiale kommissaris, generaal-majoor Luntu Ngubelanga, het die voorval veroordeel en herbevestig dat kriminele aktiwiteite binne die geledere van die SAPD nie geduld sal word nie.
“Diegene wat by misdadigheid betrokke is, sal bondig en streng binne die grense van die wet en die SAPD se dissiplinêre regulasies hanteer word,” het hy gesê.
Die verdagtes sal na verwagting later Maandag in die Kimberley-landdroshof verskyn.
