‘n Boeremark vind Vrydag (13/09/2024) by die Galeshewe-sirkel plaas en bied aan jong boere die geleentheid om hul produkte ten toon te stel en meer inligting oor die landboubedryf te bekom.
Thato Dipico, ‘n voorligtingsbeampte van die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, het verduidelik dat die geleentheid ten doel het om jong boere te bemagtig deur netwerkgeleenthede, toegang tot inligting en befondsing, en ondersteuning vir sakegroei te bied.
“Daar is meer as 100 jong boere in die provinsie, insluitend diegene wat deur die departement opgelei is, asook diegene wat in ontluikende en informele markte werksaam is. Weens beperkte toegang tot grond moedig ek hulle aan om beskikbare spasie te maksimeer en in hul agterplase te plant,” het Dipico gesê.
“Enigiemand is welkom om hul produkte te kom uitstal, al is dit 100% katoen-T-hemde, skoonheidsprodukte gemaak van natuurlike bestanddele of klere wat uit wol vervaardig word. Die mark sal oop bly totdat die laaste persoon vertrek.
“Ek beoog om hierdie geleentheid tot die grootste landboutentoonstelling in die Noord-Kaap uit te brei en wil dit ook na verskillende provinsies uitrol.”
