Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (OPOD) sal Vrydag (13/09/2024) vanaf 10:00 ‘n gemeenskapsuitreikbetrokkenheid by die stamsaal in die dorpie Dithakong in die John Taolo Gaetsewe-distrik aanbied.
Phaladi Shuping, woordvoerder van die OPOD, het gesê die direktoraat ondersoek tans verskeie ernstige sake, waaronder dood in aanhouding, verkragting deur beamptes en aanrandingsake wat by die Kuruman-, Kathu- en Mothibistad-polisiestasies aangemeld is.
“Die gemeenskapsbetrokkenheid is bedoel om gemeenskappe te bemagtig en op te voed oor hul regte indien hulle hulself aan die ontvangkant van polisiemisdadigheid bevind,” het Shuping gesê.
Hy het bygevoeg dat Dikeledi Ntlatseng, uitvoerende direkteur van OPOD, saam met Kgosi Kgotlaame Motshwarakgole van die Batlhaping ba-ga Motshwarakgole, asook belanghebbendes soos die SAPD en die Valke, ook aan die geleentheid sal deelneem.
