Dit is byna ’n jaar sedert David Waterboer op 7 Februarie 2025 spoorloos verdwyn het, en die saak bly ’n bron van kommer vir sy familie, vriende en die breër Namakwa-gemeenskap. Tot dusver het geen nuwe, bevestigde inligting oor sy moontlike ligging of die omstandighede rondom sy verdwyning na vore gekom nie.

Volgens inligting waaroor NFM Nuus beskik, het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, nooddienste en speurders onlangs by David se ouerhuis opgedaag, waar die area afgesper en die eiendom deeglik deursoek is as deel van voortgesette ondersoekwerk.

In ’n persverklaring uitgereik deur die kantoor van die NamakwaDistrikskommissaris word bevestig dat die Namakwa-taakspan op Woensdag 4 Februarie 2026 roetine-ondersoeke by die Waterboer-woning in Nababeep uitgevoer het. Die polisie beklemtoon dat hierdie optrede deel vorm van die voortgaande ondersoek na David se verdwyning in Februarie verlede jaar.

Die polisie sê hulle is bewus van die gemeenskap se bekommernisse en doen ’n beroep op inwoners om ondersoekspanne die ruimte te gee om leidrade te ondersoek en opvolgwerk te doen. Die publiek sal volgens owerhede op hoogte gehou word soos die ondersoek verder ontvou.

Die Waterboer-familie en gemeenskap wag steeds op antwoorde, terwyl die hoop bly voortleef dat die ondersoek uiteindelik duidelikheid sal bring.

NFM Nuus sal die storie bly volg en enige bevestigde nuwe inligting met die gemeenskap deel soos dit beskikbaar raak.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *