Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid het Maandag, 06 Julie 2026 ‘n driedaagse basiese TB-bestuursopleiding in Springbok van stapel gestuur om klinici in die Namakwa-distrik verder toe te rus met die voorkoming, diagnose, behandeling en beheer van tuberkulose (TB).
Die opleiding fokus op infeksievoorkoming en -beheer, asook die verbetering van pasiëntsorg en behandelingsuitkomste.
Onderwerpe wat behandel was, sluit die rol van Sosiale Gedragsveranderingskommunikasie (SBCC), die oordrag en voorkoming van TB, kliniese aanbieding van pulmonale en ekstra-pulmonale TB, diagnostiese toetse, behandeling, geneesmiddelinteraksies, pasiëntopvoeding en die monitering van behandeling in.
Volgens die departement vorm die opleiding deel van sy voortdurende verbintenis om gesondheidswerkers deur kapasiteitsbou te ondersteun sodat hulle doeltreffend op TB-gevalle kan reageer en gehaltegesondheidsorg aan pasiënte kan lewer.
Die inisiatief ondersteun ook die Nasionale Departement van Gesondheid se End TB-veldtog, wat daarop gemik is om gedurende die 2026/27-boekjaar vyf miljoen mense landwyd vir TB te toets.
Die Noord-Kaap se teiken is om 146 912 mense te toets en 10 201 TB-pasiënte op behandeling te plaas.
Vir die Namakwa-distrik is die doelwit om 15 240 mense vir TB te toets en 794 pasiënte op behandeling te plaas.
Ander distrikte se teikens sluit in Frances Baard met 53 070 toetse en 3 187 behandelings, John Taolo Gaetsewe met 20 521 toetse en 1 401 behandelings, Pixley ka Seme met 23 636 toetse en 2 144 behandelings, en ZF Mgcawu met 34 446 toetse en 2 675 behandelings.
Die opleiding vorm deel van die TB-herstelplan 1.0 vir 2026/27 en sluit ook opleiding oor versnelde TB-opsporing en -toetsing in.
Dit behels simptoomsifting, die gebruik van digitale borskas-X-strale, kunsmatige intelligensie (KI)-interpretasie en TB NAAT-toetsprotokolle.
Tradisionele gesondheidspraktisyns sal ook opgelei word oor die belangrikheid van vroeë toetsing en tydige verwysings.
Die departement beklemtoon dat TB-voorkomende behandeling (TPT) vir noue en huishoudelike kontakte van TB-pasiënte, asook alle TB-behandeling, gratis by openbare gesondheidsfasiliteite beskikbaar is. Sifting en toetsing word eweneens kosteloos aangebied om vroeë opsporing te bevorder en die verspreiding van die siekte te beperk.






