Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Namakwa het ‘n beroep op die jeug van Steinkopf gedoen om hulle van dwelms en misdaad te weerhou nadat ‘n 17-jarige seun met dwelms betrap is.

Die voorval het Woensdag 8 Julie omstreeks 13:30 plaasgevind toe die Namakwa Taakspan ‘n deursoekingslasbrief by ‘n woning in Steinkopf uitgevoer het. Met hul aankoms het beamptes die 17-jarige aangetref en hom ingelig oor die doel van die operasie. Hy het ingestem dat die perseel deursoek word.

Volgens die polisie is mandrax-tablette tydens die deursoeking in sy besit gevind, waarna hy in hegtenis geneem is. In ooreenstemming met die wetgewing wat op minderjariges van toepassing is, is hy later in die sorg van ‘n verantwoordelike volwasse voog vrygelaat.

Die SAPD sê die voorval beklemtoon die belangrikheid daarvan dat jongmense ingeligte besluite neem en wegbly van dwelmverwante aktiwiteite en ander vorme van misdaad.

Die Namakwa-distrikskommissaris het jeug in Steinkopf aangemoedig om eerder by die Youth Against Crime-inisiatief en die Blue Patrollers-program aan te sluit. Volgens die polisie bied hierdie programme aan jongmense die geleentheid om ‘n aktiewe rol in misdaadvoorkoming te speel, leierskapsvaardighede te ontwikkel en as positiewe rolmodelle in hul gemeenskappe op te tree.

Die SAPD meen dat sulke inisiatiewe jongmense kan help om weg te bly van dwelms en negatiewe invloede, terwyl hulle ‘n positiewe bydrae tot veiliger gemeenskappe lewer.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *