Die SAPD verwelkom die vonnis van 20 jaar wat onlangs in die hooggeregshof in Kimberley aan Eldene Wilkinson opgelê is.
Op 15 Mei 2022 het Eldene Wilkinson (30) en sy meisie, Danielle Van Der Linde (29) ‘n rusie gehad wat gelei het tot die noodlottige messteek van Danielle by haar huis in Florianville in Kimberley.
“Danielle was toe swanger en Wilkinson het haar twee keer in die nek gesteek. Wilkinson het van die toneel gevlug, maar homself aan die volgende dag aan die polisie oorgegee,” het Luitenant-Kolonel Sergio Kock, woordvoerder vir die polisie gesê.
Die polisie het borgtog teengestaan en die beskuldigde het in aanhouding gebly tot en met sy vonnisoplegging.
Eldene Wilkinson het skuld beken en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Op Dinsdag, 11 Oktober 2022 is hy in die hooggeregshof in Kimberley vir die moord tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Kock sê die Kimberley SAPD-stasiebevelvoerder, Brigadier Nicky Mtongana het speurkonstabel Jon-Ross Webb van die Kimberley-eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade geloof vir sy noukeurige ondersoek.
Hy het ook herhaal dat GBVF een van die prioriteite in die SAPD bly en het ‘n beroep op slagoffers gedoen om hul uit te spreek teen hierdie kriminele dade.
