Met die aanvang van die besige Paasnaweek en verhoogde verkeersvloei op hoofroetes in en uit die dorp, het wetstoepassers hul sigbaarheid in die Namakwa-distrik opgeskerp.
Die distrikskommissaris van die SAPD, brigadier Schalk Andrews, is Donderdag by die N7-weegbrug in Springbok deur die uitvoerende burgemeester van die Namakwa Distriksmunisipaliteit, raadslid Alinda Beukes, vergesel tydens ’n padblokkade. Tydens die besoek is die burgemeester ingelig oor die polisie se bedrywighede en prestasie in die distrik.
Beukes het lede toegespreek en hul rol in gemeenskapsveiligheid erken, veral gedurende die feestyd wanneer baie beamptes van hul families weg is om diens te doen.
Motoriste wat deur die padblokkade beweeg het, het ook Paaseiers ontvang as deel van ’n bewusmakingsinisiatief.
Die polisie het intussen ’n beroep op padgebruikers gedoen om verantwoordelik op te tree deur spoed te beperk, veiligheidsgordels te dra en nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie. Wetstoepassing sal volgens owerhede streng toegepas word om padveiligheid tydens die Paasnaweek te verseker.
