Drie verdagtes is op 5 Junie deur lede van die provinsiale georganiseerde misdaad eenheid en die Strydenburg-polisie gearresteer terwyl hulle na bewering onwettig pensioenfondsgelde van persone wat in en om Strydenburg woon, onttrek het.
Die verdagtes – ‘n 33-jarige vrou en twee mans, onderskeidelik 28 en 65 jaar oud – is by ‘n OTM in Strydenburg gevind in besit van ‘n aansienlike aantal Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se kaarte, identiteitsdokumente en bankkaarte.
Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Sergio Kock, het gesê die verdagtes kon nie rekenskap gee van die groot hoeveelheid kaarte nie en word aangekla vir die oortreding van die Nasionale Kredietwet van 34/2005.
Hy het bygevoeg dat die verdagtes binnekort in die Strydenburg-landdroshof sal verskyn.
“Enigiemand met inligting oor die voorval of wat moontlik geteiken is, kan speurkonstabel Stefaans Mangate by 060 9636 397 kontak. Die ondersoek duur voort,” sê Kock.
