Op Maandag (03/07/2024) is ‘n 34-jarige man van Galeshewe deur die Streekhof in Kimberley tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Gedurende die vroeë oggendure op 1 Mei 2022 het die 11-jarige slagoffer in haar slaapkamer wakker geword toe sy voel hoe die beskuldigde op ‘n onbetaamlike wyse aan haar raak.

“Hy het haar na sy bed gesleep en haar verkrag. Sy was daarna te bang om die voorval aan te meld. Die volgende aand, 2 Mei 2022, het die beskuldigde haar na sy bed geneem en haar weer verkrag,” het Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Kolonel Cherelle Ehlers gesê.

Daarna het die kind die voorvalle by haar ma aangemeld, wat die saak by die polisie aangemeld het.

Die beskuldigde is dieselfde dag in hegtenis geneem en het in aanhouding gebly totdat hy skuldig bevind is.

Ehlers het gesê dat hy op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind is en vir albei aanklagte tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam sal in die Nasionale Register vir Seksoortreders aangeteken word.

Die Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het die puik optrede deur die ondersoekbeampte, speur-adjudant offisier Tanya Serfontein van die Galeshewe-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, geloof.

Haar deeglike ondersoek het gelei tot die suksesvolle skuldigbevinding en swaar vonnis wat die hof opgelê het.

Luitenant-generaal Otola het gesê die beskerming van kinders bly ‘n prioriteit vir die SAPD.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to content