Die 31 jarige Garvey De Koker is onlangs in die Calvinia-streekhof 5 jaar gevangenisstraf opgelê vir seksuele aanranding.
Op 22 Augustus 2020 om 20:30 het die 20 jarige vroulike slagoffer en ‘n vriend van ‘n Sportsbar in Loeriesfontein gestap toe sy deur die beskuldigde aangerand is.
“Hy het seksuele aanmanings aan die slagoffer gemaak, haar arm gegryp en haar onbetaamlik aan haar privaatdele betas,” het Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Luitenant Kolonel Sergio Kock gesê.
Die beskuldigde is twee dae later gearresteer en op 27 Junie 2024 gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf wat vir ‘n tydperk van 5 jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die SAPD het speurkonstabel Anthony Willemse van die Calvinia-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe toegejuig vir die uitstaande speurwerk wat die skuldigbevinding van die GBVF-oortreder verseker het.
