Die Noord-Kaapse LUR vir Korporatiewe Bestuur, Menslike Nedersettings, Tradisionele Sake, Vervoer, Veiligheid en Skakeling, Bentley Vass, het Saterdag (05/10/2024) ‘n amptelike besoek aan die ZF Mgcawu-distrik gedoen, saam met sy afvaardiging.
Volgens Sersant Omphile Masegela, woordvoerder van die provinsiale polisie, het die besoek by die Upington-polisiestasie begin, waar die LUR met die waarnemende distrikskommissaris, brigadier Peet Coetzee, vergader het.
Tydens hierdie ontmoeting het brigadier Coetzee ‘n oorsig van die stasie se profiel en operasionele status gegee.
Vass het ook ‘n parade van beamptes van die Upington SAPD, die Openbare Orde Polisiëringseenheid, en Rosedale SAPD toegespreek.
In sy toespraak het hy die belangrikheid van dissipline en toewyding onder die beamptes beklemtoon om te verseker dat hul doelwitte doeltreffend bereik word.
As deel van die besoek het die afvaardiging verskeie operasionele aktiwiteite waargeneem, waaronder die uitvoering van ‘n deursoekingslasbrief, nakomingsinspeksies, en ‘n fokus op die handhawing van hoë sigbaarheid in die Upington sentrale sakekern (CBD), Rosedale en Paballelo.
Die span het ook die gemeenskapsdienssentrum en die aanhoudingselle besoek om die fasiliteite te assesseer.
Hierdie besoek beklemtoon die toewyding van die LUR en die plaaslike polisieleierskap om die veiligheid en sekuriteit in die distrik te verbeter en te verseker dat die gemeenskap die ondersteuning en aandag ontvang wat dit verdien.