‘n Kaaps besigheidseienaar is onlangs in Kimberley in hegtenis geneem nadat hy in besit gevind was van beweerde gesteelde karparte/voertuigonderdele.
Die polisie in Kimberley, misdaadintelligensie, voertuigmisdaadondersoekeenheid en die misdaadtoneelbestuur-afdeling het takties opgetree nadat hulle inligting ontvang het, oor onwettige bedrywighede op ‘n geïdentifiseerde perseel in Leratopark.
Die besigheid het tydens die misdryf as ‘n chop-shop gefunksioneer.
‘n Woordvoerder vir die polisie, kaptein Olebogeng Tawana het die inhegtenisname bevestig en gesê dat die polisie klopjagte en inspeksies op die perseel uitgevoer het.
“Tydens ’n intense ondersoek is ‘n Mazda 323 gevind, wat in 2021 in Kimberley as gesteel aangemeld is”, het Tawana gesê.
“Die beweerde voertuig is op die perseel gevind, heeltemaal uitmekaargehaal van sy onderdele. Van die kar se parte is gevind by ‘n ander perseel nie ver van die chop-shop af nie.”
Die eienaar van die chop-shop verskyn vandag, Dinsdag, 10 Januarie in die Kimberley-landroshof op twee klagtes van diefstal, en vir die onwettige handel met skrootmetaal.
