Dubbel-moordbeskuldigde die 32 jarige Christoffel Samuel Irion, wat skuldig bevind is aan die moord op sy broer en meisie se pa, is onlangs in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Upington tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Hy is skuldig bevind aan aanranding en twee moorde.
Mojalefa Senokoatsane, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê die beskuldigde het op 2 November 2019 in ‘n argument met sy broer, Jacques Jacobus Irion, by hul ouerhuis betrokke geraak.
“Samuel het ‘n mes gevat en sy broer in die rug gesteek toe Jacques geweier het om sy skoene uit te trek. Die broer het uit die huis gehardloop om hulp te soek. ’n Buurman wat probeer ingryp het, is ook deur Samuel in die kop gesteek. Jacques is op die toneel dood en die beskuldigde is in hegtenis geneem. Samuel was vir 11 maande in die tronk totdat die saak van die rol geskrap is weens onvolledige ondersoeke.”
Senokoatsane het verklaar dat Samuel op 27 Februarie 2021 in ‘n rusie met sy meisie se pa, Jacob van Wyk, betrokke geraak het toe hy sy meisie besoek het.
“Hy het sy meisie opdrag gegee om hom te vergesel en sy het geweier. Samuel en sy meisie se pa het begin stry toe Van Wyk sy dogter probeer verdedig het. Tydens hierdie onenigheid het Samuel ‘n mes gevat en Van Wyk wat op die toneel dood is, gesteek. Die polisie is ontbied en hy is in hegtenis geneem.”
Senokoatsane het bygevoeg dat staatsadvokaat Sue-Ann Weyers-Gericke aangevoer het dat die beskuldigde ‘n maksimum vonnis opgelê moet word weens die ernstige aard van die misdrywe.
“Sy het daarop gewys dat die beskuldigde twee mense vermoor en nog een beseer het. Hy het sy broer vir ‘n paar skoene vermoor en ‘n pa vermoor wat sy dogter probeer verdedig het. Hy het nie net ‘n gebrek aan berou getoon nie, maar het ‘n gebrek aan empatie. Hy het twee onskuldige mense vermoor, sonder om die gevolge van sy dade in ag te neem.”
Hy het aangedui dat Samuel tot 15 jaar gevonnis is vir moord, vyf jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en lewenslange tronkstraf vir die tweede moord.
“Die NVG voorsien dat hierdie vonnisse afsluiting sal bring vir die families van die slagoffers, wat hul geliefdes so genadeloos verloor het in die hande van iemand wat hulle vertrou het,” het Senokoatsane gesê.
