Altesaam 381 verdagtes is in hegtenis geneem vir verskeie oortredings tydens Operasie Shanela-operasies wat van 29 April tot 5 Mei in die Noord-Kaap uitgevoer is, insluitend voertuigkontrolepunte, stop- en deursoekings, voet- en voertuigpatrollies, nakomingsinspeksies, en opsporingsoperasies deur speurders.
Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Sergio Kock, het gesê 2 150 voertuie en 4 491 persone is by voertuigkontrolepunte en talle padblokkades regdeur die provinsie voorgekeer en deursoek.
“Nakomingsinspeksies is gedoen by tweedehandse handelaars, vuurwapenhandelaars, drankpersele, formele en informele besighede, myne en plase. Drie ongelisensieerde drankwinkels is gesluit.”
Kock het bygevoeg dat patrollies by winkelkomplekse, winkelsentrums en in brandpuntgebiede uitgevoer is om polisiesigbaarheid te versterk.
“Die verdagtes is aangekeer en gearresteer vir misdade wat wissel van moord, poging tot moord, roof, aanranding, huisbraak, diefstal uit motorvoertuig, handel met opsetlike saakbeskadiging en besit van dwelms, gevaarlike wapens, bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, onwettige handel in drank en onwettige immigrante asook oortreding van die Wet op Tweedehandse Goedere.”
Kock het verklaar dat speurders in die vyf distrikte 105 gesoekte verdagtes opgespoor het wat op vlug van die polisie was.
“’n Verdere 276 persone is vir ander ernstige misdade in hegtenis geneem.
“Ontwrigtende optrede het ook gelei tot die konfiskering van groot volumes alkoholiese drank, dwelms en talle gevaarlike wapens by onwettige sjebiens, sowel as vee en vermoedelik gesteelde eiendom in brandpunt-misdaadgebiede.”
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het herhaal dat Operasie Shanela meer stewels op die grond sit om kontakmisdade, dwelmhandel en GBVF te bekamp.












