Die Richmond-streekhof het die 23 jarige Jason Witbooi op 6 Mei 20 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van roof, huisbraak en diefstal.
Die eerste voorval in Witbooi se misdaadtog dateer terug na November 2020.
Volgens luitenant-kolonel Sergio Kock, woordvoerder van die Noord-Kaapse polisie, het Witbooi by ‘n huis in Richmond ingebreek, ‘n selfoon van ‘n vroulike inwoner gesteel en van die toneel gevlug.
In Februarie 2022 was Witbooi by nog ‘n huisbraak- en diefstalvoorval betrokke.
Polisiebeamptes het hom met gesteelde goedere in Richmond opgemerk.
Witbooi het die sak gesteelde items laat val en probeer ontsnap, maar is later aangekeer.
Hoewel die saak voorlopig teruggetrek is en Witbooi uit die tronk vrygelaat is, het sy kriminele aktiwiteite nie opgehou nie.
Die laaste voorval wat tot sy arrestasie gelei het, het op 9 Mei 2023 plaasgevind toe Witbooi ‘n 16-jarige seun met ‘n mespunt van ‘n 20 kg-sak hoender beroof het.
Hy is die volgende dag in hegtenis geneem en bly sedertdien in aanhouding.
Op 6 Mei 2024 is Witbooi as volg gevonnis:
Aanklag 1 – Diefstal in 2020: 5 jaar gevangenisstraf
Aanklag 2 – Huisbraak en diefstal in 2022: 5 jaar gevangenisstraf
Aanklag 3 – Roof: 15 jaar gevangenisstraf
Die vonnisse vir aanklagte 1 en 2 sal gelyklopend uitgedien word.
Die SAPD in die Noord-Kaap het die vonnis van 20 jaar tronkstraf wat aan Witbooi opgelê is, verwelkom.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het die Richmond SAPD se ondersoekbeamptes geloof vir hul uitstekende spanwerk.
Speursersant Stephanie Koen, speurkonstabel Rodney Julies en die Colesberg-kriminele rekord en misdaadtoneelbestuurspan is spesifiek geprys vir hul pogings wat tot die “uitstaande” vonnis gelei het.
