Die Fraserburg SAPD het alle hulpbronne geaktiveer in ‘n poging om ‘n 38-jarige man vas te trek en in hegtenis te neem wat na bewering sy 22-jarige meisie verskeie kere met ‘n mes gesteek en haar vir dood agtergelaat het.

“Op Vrydag, 23 Februarie 2024 het die verdagte en die slagoffer by sy pa in Fraserburg gekuier. ‘n Stryery het na bewering ontstaan en die slagoffer het gekies om huis toe te stap, maar is aangerand deur die verdagte wat haar in ‘n donker oop veld ingesleep en haar verskeie kere op haar bolyf en gesig gesteek het,” het ‘n polisiewoordvoerder Luitenant Kolonel Sergio Kock gesê.

Haar gille het gemeenskapslede gewaarsku en ‘n patrollerende polisievoertuig is minute later voorgekeer. 

Die slagoffer is na die Fraserburg-gemeenskapsgesondheidsentrum gehaas vir mediese aandag, waar sy gestabiliseer is en na ‘n hospitaal in Kimberley oorgeplaas is, waar sy in ‘n kritieke toestand is.

Die Fraserburg-stasiebevelvoerder, Kaptein Lincoln Nkathazo het alle SAPD-eenhede gemobiliseer en met die hulp van die Men and Women Against Crime Forums ‘n soektog na die verdagte uitgevoer.

Die polisie het inligting opgevolg en die verdagte is gevind wat Dinsdag, 27 Februarie 2024 omstreeks 17:00 in die veld weggekruip het.

Die ondersoekbeampte, speur-adjudantoffisier JAM Tyers, sal borgtog teenstaan aangesien die verdagte binnekort in die Fraserburg-landdroshof sal verskyn.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *