Die gemeenskap van Goodhouse was op Woensdag, 29 Maart deur die uitvoerende burgemeester, Mervin Cloete, die raadslid van Wyk 8, Warren Britz, die burgemeester van die Richtersveld plaaslike munisipalieit, Cornell Knop en die distrikhoof van die departement van Sport, Kuns en Kultuur besoek om Menseregte dag amptelik te herdenk.
Verskeie provinsiale staatsdepartemente was uitgenooi om deel te wees van die dag, en om húl dienste na die gemeenskap van Goodhouse te bring.
Die provinsiale staatsdepartemente teenwoordig was Sassa, departemente landbou, sport, kuns en kultuur, Coghsta, pad- en publike -werke.
Cloete het tydens sy toespraak laat hoor dat die verskeie staatsdepartemente, homself ingesluit dienaars van gemeenskappe is.
“Iets wat nie toegelaat kan word nie, is slegte dienslewering”, meen Cloete. Hy het ook gesê dat die ontbrekende dienslewering in Goodhouse die basiese regte van inwoners skend. Die kommentaar was gemik op watertoevoeruitdagings wat die gemeenskap al vir meer as twee weke lamlê.
Die gemeenskap was ook die geleentheid gegun om vrae aan die staatsampetnare te stel oor hoekom dienslewering ontbreek. Inwoners het ook gehammer oor kwessies soos ontbrekende werksgeleenthede en swak infrastruktuur wat ‘n gesondheidsrisiko is. Geen definitiewe antwoorde of oplossings was vir hierdie kwessies gegee nie.
Die afwesigheid van die plaaslike munisipaliteit was tydens die toesprake opgemerk en ten sterkste veroordeel.
