Twee leerders van Hoërskool S.A. van Wyk het gedurende die Junie-vakansie hul skool en Namakwaland op nasionale vlak verteenwoordig as deelnemers aan die televisieprogram “Maak My ‘n Miljoenêr” in Johannesburg.

Die twee jong entrepreneurs het meegeding teen leerders van skole met groter hulpbronne, meer geleenthede en groter blootstelling, maar het hul staal gewys deur ‘n plek onder die Top 30 jong entrepreneurs in Suid-Afrika te verower.

Hoewel die finale uitslae nog afgewag word, sê die skool die leerders is reeds wenners.

Volgens die skool bewys hul prestasie dat sukses nie deur die grootte van ‘n skool bepaal word nie, maar deur karakter, deursettingsvermoë en ‘n positiewe ingesteldheid.

Die skool het die leerders geloof vir hul toewyding en die wyse waarop hulle die Rooikat-naam met trots gedra het.

Die prestasie dien as inspirasie vir ander jongmense in Namakwaland en beklemtoon dat talent, harde werk en vasberadenheid deure kan oopmaak, ongeag waar ‘n mens vandaan kom.

Hoërskool S.A. van Wyk het sy trots uitgespreek oor die twee leerders en hulle sterkte toegewens terwyl hulle op die aankondiging van die finale uitslae wag.

Die skool het beklemtoon dat die prestasie reeds bewys het waartoe jongmense uit die streek in staat is wanneer hulle bereid is om groot te droom en hul doelwitte na te jaag.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *