Tydens die uitvoering van voertuigpatrollies en stop- en deursoek-aksies deur Springbok Sigbare Polisiëring Woensdag (17/07/2024), het lede ‘n onbekende manspersoon opgemerk wat verdag optree.
Toe hulle hom sowel as die perseel deursoek het, het hulle sakke gevind wat vermoedelik dagga bevat.
’n 26-jarige verdagte is gearresteer en dagga ter waarde van R61 700 is gekonfiskeer asook geld wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is.
Terselfdertyd in Port Nolloth, terwyl die polisie voertuigpatrollies in die gebied gedoen het, het hulle inligting ontvang van ‘n manspersoon wat na bewering dwelms in die Sizamile-nedersetting in Port Nolloth verkoop en daarna vinnig op die inligting opgevolg.
“By die geïdentifiseerde huis is ‘n deursoeking gedoen en die polisie het vermeende tik, mandrax en dagga met ‘n geraamde straatwaarde van R3 000-00 en kontant wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is gevind en beslag gelê en ‘n 45-jarige manlike verdagte in hegtenis geneem,” het Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Sersant Molefi Shemane gesê.
Die gearresteerde persone sal na verwagting binnekort in die onderskeie landdroshowe verskyn.
Die polisie bly verbind tot die uitwissing van dwelms en dwelmmisbruik in die Namakwa-distrik.


