Middel van die maand data wat deur die Sentrale Energiefonds (CEF) gepubliseer is, toon dat petrol- en dieselpryse in Suid-Afrika volgende maand kan styg, ná ‘n vroeë maand-skok vir olie en voortgesette druk op die rand.
Die data, wat dien as ‘n momentopname van marktoestande vanaf 13 Oktober 2022, toon dat die petrolprys in November met 48 sent per liter kan styg.
Diesel toon intussen ‘n veel groter onderverhaling – dus potensiële toename van R1,57 per liter.
Die middel-maand momentopname is soos volg:
Petrol 93: verhoging van 48 sent per liter;
Petrol 95: verhoging van 38 sent per liter;
Diesel 0,05%: verhoging van 154 sent per liter;
Diesel 0,005%: verhoging van 157 sent per liter;
Verligtingsparaffien: verhoging van 57 sent per liter.
Radio Nfm het met motoriste gesels oor die moontlike petrol prysverhoging wat volgende maand kan plaasvind.
Annette Burgess, besigheidsvrou op Kleinzee het gesê dat die prysverhoging ‘n rol speel in die sin as sy met haar bakkie ry, dan praat sy nie van daar is petrol oor in die tenk nie.
Burgess gooi ‘n R800 in en as sy terug keer vanaf Springbok na Kleinzee dan is die bakkie dolleeg.
“In die eerste plek is jy nie altyd beskore om genoeg geld te het om voorraad aan te koop nie, en aan die anderkant is daar ‘n geweldige prysstyging, wat jy aan die produkte moet hef,” het sy gesê.
Die kliënte kla dan van die duur pryse op die produkte en die styging in petrol beïnvloed jou prys na die kliënte toe.
Burgess noem dat dit nogal ‘n probleem is, veral op besighede wat voorraad moet aankoop, veral vir klein besighede wat elke tweede week moet ry om voorraad aan te koop.
“Dit is moeilik vir ons om by te bly, om oor en weer te kan ry en genoeg voorraad te kan hê, om te voorsien in die behoeftes van die kliënte,” voeg Burgess by.
Dit beïnvloed klein besighede wat nie genoeg kapitaal het.
Burgess is deel van ‘n gemeenskapsgroep op Kleinzee, wat daar gereeld gevra word of iemand op Port Nolloth of Springbok is om hul medikasie saam te bring.
As daar nie ‘n kliniek of ‘n hospitaal op jou dorp is nie, dan is dit ook ‘n probleem want in die “outyd” kon jy maklik gery het en jou medikasie gaan haal het.
Jy kan dit nie meer gaan haal nie as gevolg van die hoë petrol pryse, dit lei daarnatoe dat mense se gesondheid daaronder lei.
Op diè dorp is senior burgers woonagtig en daar is nie ‘n dokter nie, en die persone wat op medies hul chroniese medisyne kry, moet ry tot op Springbok om hul mediese voorraad te kan kry.
Haar pleidooi is dat daar mooi moet gekyk word na die bepaling in die petrol pryse.
