Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid het sy pogings om meisies teen servikale kanker te beskerm, versterk deur ’n grootskaalse Menslike Papillomavirus (HPV)-inentingsveldtog regoor die provinsie uit te rol.

Die veldtog, wat van 2 Februarie tot 27 Maart 2026 plaasgevind het, is in samewerking met die Departement van Onderwys en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geïmplementeer.

Dit program was gemik op Graad 5-meisies in openbare, spesiale en privaatskole, met die doel om vroeë beskerming teen HPV-verwante siektes te bied.

Altesaam 399 openbare skole en 38 privaatskole is bereik, met ’n teiken van 11 900 leerders.

Die departement het bevestig dat ’n enkeldosis-entstof toegedien is om die risiko van servikale kanker en ander HPV-verwante siektes later in die lewe te verminder.

Die departement het verder aangedui dat inhaalinentings vir leerders wat die aanvanklike veldtog gemis het, vanaf 3 Augustus tot 25 September 2026 sal plaasvind.

Hierdie fase sal ook privaat- en onafhanklike skole insluit.

Ouerlike of voogde se toestemming bly ’n vereiste vir deelname.

Volgens gesondheidsowerhede speel vroeë inenting ’n kritieke rol in die voorkoming van kanker en die bevordering van langtermynwelstand.

HPV is ’n algemene virus wat verskeie vorme van kanker kan veroorsaak, insluitend servikale kanker, wat een van die mees algemene kankers onder vroue is.

In ’n onlangse verslag deur die nasionale departement van gesondheid is meer as 5 700 gevalle van servikale kanker jaarliks in Suid-Afrika aangemeld.

In die Noord-Kaap alleen is 16 142 vroue in 2025 vir servikale kanker gekeur, waarvan 1 352 met verskillende stadiums van die siekte gediagnoseer is.

Die departement het ouers en voogde gerusgestel dat die HPV-entstof veilig, effektief en goedgekeur is vir gebruik in Suid-Afrika, en deur opgeleide gesondheidswerkers toegedien word.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *