Noord-Kaapse Onderwysdepartement pomp miljoene rande in infrastruktuur

 Noord-Kaapse Onderwysdepartement pomp miljoene rande in infrastruktuur

Foto: Verskaf – LUR Zolile Monakali

Die Noord-Kaapse departement van onderwys het R687 miljoen opsy gesit vir die ontwikkeling en modernisering van infrastruktuur.

Met hierdie begroting word verwag dat die departement die opknapping van verskeie skole sal voltooi, en die bou van nuwe skole in die akademiese jaar 2022/23 van stapel stuur.

Dit is volgens die LUR vir onderwys in die provinsie, Zolile Monakali toe hy gister sy departement se begrotingsrede voor die provinsiale wetgewer ter tafel gelê het.

Monakali het aangekondig dat infrastruktuurontwikkeling een van sy topprioriteite geword het.

Die onderwysdepartement in die provinsie het vroeër vanjaar onder die loep gekom nadat die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor onderwys, Bongiwe Mbiqo-Gigaba, gesê het dat een van die skole wat hulle in die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit besoek het, eiendom huur van ‘n plaaslike boer in die omgewing.

Mbinqo-Gigaba het ook gesê dat die skool ongelukkig nie goed onderhou is nie, en weens die huursituasie is dit nie duidelik wie se verantwoordelikheid die instandhouding van die perseel was nie.
Intussen het Monakali die belangrikheid van die skep van ‘n bevorderlike omgewing vir openbare onderwys beklemtoon.

Hy het gesê dat die departement mediasentrums, rekenaarsentrums, biblioteke en wetenskaplaboratoriums teiken, om deur die mediumtermyn-bestedingsraamwerktydperk geïmplementeer te word.

Hy het verder gesê die departement het ook verskeie moderne alternatiewe tegnologieë ondersoek in die implementering van infrastruktuurprojekte, wat sonkrag-aangedrewe boorgatpompe en behandelingsaanlegte insluit.

Bron: OFM Nuus

Marsilino Lapont

http://Marsilino

Catch Marsilino LaPont weekdays between 6am and 9am on Morning Joy! Marsilino is also a radio journalist and news reader for Radio NFM 98.1.

Related post