Seisoen drie van die bekende program van Kokerboom Media het onlangs weer afgeskop op Radio Nfm 98.1.
Op die program word plaaslike kunstenaars se talent ten toon gestel.
Met die nuwe seisoen het die program ook ‘n nuwe aanbieder wat die gaste op hul gemak laat voel wanneer sy ‘n onderhoud met hulle voer.
Valmey van den Heever is woonagtig in Okiep wat net ‘n hanetreetjie van Radio Nfm af is.
Van den Heever is ‘n kunstenaar en was voorheen ‘n omroeper op Nfm gewees en het nog altyd die droom gekoester om weer ‘n program te kan aanbied.
Nadat Fabian Carroll, vervaardiger van die program ‘Jou Storie’ en een van die direkteure van Kokerboom Media met haar kontak gemaak het, het sy die geleentheid met beide hande aangegryp.
“Ek dink as ‘n kunstenaar self ook waardeer ‘n mens sulke platforms om jouself te kan bloot stel en as daar mense is wat jou volg op sosiale media op hoogte te hou waarmee jy jouself besig hou. Daardeur inspireer jy ander wat self deel wil raak van die mediabedryf,” het van den Heever opgewonde laat hoor.
Deel van haar stokperdjies is om liedjies te skryf en haar kreatiwiteit maak dat sy baie gou met iets vorendag kan kom.
Sy is ‘n kranige kitaarspeler ook.
Wat haar die meeste inspireer is die stories van mense, hul vriendelikheid, diè wat vir haar omgee, asook haar eie ondervinding.
Dan is daar haar verbeelding, en sy voel as sy nie droom nie kan sy nie voortbestaan nie, want om te droom hou jou lewendig.
“Graag sal ek eendag met Tarryn Lamb en Riana Nel wil optree. Ek glo sterk ek sal hulle eendag raak loop en ‘n paar woorde met hulle kan wissel,” sê sy met ‘n skamerige glimlag op haar gesig.
Met oortuiging in haar hart sê sy dat die Here jou ‘n gawe gee en wat jy daarmee maak “is all up to you.”
Sy noem dat jy jou gawe ontvang vanaf die Here met ‘n doel en daardie gevoel van dat jy ‘n leegheid ervaar en jy het geen rigting in jou lewe nie, gaan albei gepaard met die eenvoudige feit dat jy nie jou doelwit uitleef nie.
“As jy iets wil bereik in die lewe moet jy daarna streef,” sluit sy af
