OPVOLG: “Lee-Verno, ons soek nou al vir meer as ’n week, wáár is jy?”

 OPVOLG:  “Lee-Verno, ons soek nou al vir meer as ’n week, wáár is jy?”

Foto: Verskaf – Lee-Virno Van Wyk (5)

Gemeenskapslede tesame met die polisie op Upington se soek- en reddingseenheid gaan steeds voort met die soektog na die vyfjarige Lee-Virno Van Wyk, wat ‘n week gelede op 31 Mei 2022 vermis geraak het.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Sersant Omphile Masegela het gesê Van Wyk was laas na skool saam met sy neef en ’n vriend, naby die spoorlyn agter Skierlik-plakkerskamp, in Louisvaleweg gesien speel.

“Dit is nèt voordat Lee-Virno gesien is hoe hy op die spoorweg in die veld hardloop”, vertel Masegela.

’n Soektog is onmiddelik van stapel gestuur nadat die seun as vermis aangemeld is, maar tot vandag, is daar nog geen teken van klein Lee-Virno nie.

Masegela het bygevoeg dat hulpbronne en mannekrag van provinsiale- en distriksvlak ingebring sal word om die seun te vind.

“Inligting oor enige nuwe verwikkelinge sal gekommunikeer word”, het hy belowe.

Die waarnemende distrikskommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, kolonel Peet Coetzee, het gister die Upington-gemeenskap gerusgestel, dat die polisie alles in hulle vermoë doen om die seuntjie op te spoor.

Hy het ook die gemeenskap versoek om nie onsensitiewe of ongeverifieërde inligting, op enige sosiale media platforms te plaas of versprei nie.

Coetzee het almal wat by die soektog betrokke is bedank, insluitend die gemeenskap, nie-regeringsorganisasies en staatsdepartemente.

Enigiemand met inligting wat kan help tot die opsporing van Lee-Virno, word versoek om die bevelvoerder van die Upington-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, kaptein Koos van den Heever te kontak, by 082 302 0442 of alternatiewelik by die bystandnommer 082 330 4478.

Marsilino Lapont

http://Marsilino

Catch Marsilino LaPont weekdays between 6am and 9am on Morning Joy! Marsilino is also a radio journalist and news reader for Radio NFM 98.1.

Related post