In ‘n hartverskeurende voorval het twee jong ouers, Ruwyda Owies (24) en Henzell Roos (31), hul tweede baba verloor weens die gebrek aan tydige mediese hulp.
Owies het aan NFM-nuus vertel dat sy op Sondagmiddag, 23 Februarie 2025, om en by 14:30 in kraam gegaan het.
Sy het skielik erge pyne ervaar en haar water het gebreek. In haar nood het sy onmiddellik hulp probeer bekom en ‘n gemeenskapslid met ‘n bakkie gevra om haar na die naaste kliniek in Vioolsdrift te neem.
By hul aankoms by die kliniek het die ouers egter tot hul skok ontdek dat dit gesluit was. Die kliniek word slegs twee dae per week deur ‘n praktiserende verpleegster besoek, naamlik Dinsdae en Donderdae. Sonder enige ander keuse het die egpaar ‘n plaaslike verpleegster se huis opgesoek in die hoop op mediese bystand. Tot hul teleurstelling is Owies egter weggewys, aangesien die verpleegster verklaar het dat sy af diens is.
Met geen ander keuse nie, het Owies en Roos teruggekeer na Rooiwal, waar die geboorte op ‘n natuurlike wyse plaasgevind het. Die baba is egter voete eerste gebore, ‘n ernstige komplikasie wat sy lewe in gevaar gestel het.
In ‘n desperate poging om hulp te kry, het die ouers na die Rooiwal-polisiekantoor gegaan. Die polisiebeamptes het probeer om ‘n ambulans te ontbied, maar ongelukkig het die voertuig eers teen Maandagoggend ná 04:00 opgedaag – meer as 12 ure ná die noodoproep. Teen daardie tyd was dit egter reeds te laat en het forensiese dienste die baba se liggaam kom verwyder.
Owies is daarna per ambulans na die Springbok-hospitaal vervoer vir verdere mediese sorg.
Die tragiese voorval het kommer oor die beskikbaarheid van mediese dienste in afgeleë gemeenskappe laat opvlam. NFM-nuus wag steeds op ‘n verklaring van die Departement van Gesondheid rakende hierdie voorval en die tekort aan mediese hulp in die streek.
