Bruman Produksies, ‘n plaaslike produksiemaatskappy wat spesialiseer in oorspronklike musiekblyspele, sit die ‘lekker’ in leer met ‘n splinternuwe teaterproduksie getitel; ‘Die Pret en Speel Fabriek’.
Die Pret en Speel Fabriek is ‘n kinder-musiekblyspel wat vervaardig en geskryf is deur Bruce Newman, tesame met sy seun, die plaaslike rymklets sensasie, Vito Heyn (V.I.T.O).
Verskeie outentieke kunstenaars eie aan Namakwaland maak deel uit van hierdie produksie, wat vergesel word deur oorspronklike, opvoedkundige liedjies; om leer lekker te maak vir alle kinders!
Die musiekblyspel dra ook grootliks by tot plaaslike kreatiewe rykdom, reeds omdat die storie in ‘n verbeeldingswêreld genaamd Doempiesvlei, afspeel.
Vito het beleefd aan NFM Nuus vertel dat daar nie ‘n ouderdomsbeperking aan die produksie gekoppel is nie, alhoewel dit op kinders gemik is.
“Dit is n familie-vriendelike, opvoedkundige produksie, so dit is eintlik meer indeels gemik op die kinders”, het hy vertel.
Van die bekende name te sien en hoor in die musiekblyspel, is die skreeusnaakse Antie Katriena, en sangsensasies Schantè Beukes, Valmey Van Den Heever en Timothy Bowles.
Die musiekblyspel sal oor ‘n tydperk van drie dae, op drie verskillende dorpe in die Nama Khoi regsgebied plaasvind.
Op Vrydag, 24 Maart gaan die span kinders in Springbok en omliggende areas vermaak, by die Springbok NG Kerksaal om 16H00. Op Saterdag, 25 Maart gaan die span toer na Aggeneys, en optree by die Noord Rec Klub om 16H00. Die span gaan op Sondag, 26 Maart hul toer by die Okiep Rec Klub-saal afsluit.
Die motivering agter die produksie is dus om die gebrek aan Afrikaanse kindervermaak in Namakwaland aan te vul en sodoende kinders verryk.
