Die waaksaamheid van die Springbok SAPD K9-span het gelei tot die arrestasie van drie verdagtes wat Maandag (11/11/204), in besit van renosterhorings en beskermde plante gevind is.
Polisie het inligting ontvang oor ’n onbekende voertuig wat moontlik renosterhorings vervoer op die R355-pad tussen Springbok en Gamoep.
Hierdie intelligensie het die span aangespoor om vinnig op te tree en ‘n voertuigkontrolepunt op die pad te vestig om voertuie te stop en deeglik te deursoek.
“K9-spesialis Ozzy, ’n hond wat opgelei is om beskermde spesies op te spoor, het positief gereageer op die bagasie in een van die voertuie wat gestop is. By nadere ondersoek het die polisie ’n verskeidenheid beskermde plante met ‘n geraamde waarde van R45,400 en renosterhorings ter waarde van sowat R449,000 gevind,” het polisiewoordvoerder Sersant Timothy Sam gesê.
Die verdagtes, ‘n vrou van 23 jaar en twee mans van onderskeidelik 47 en 56 jaar, is in hegtenis geneem en het Dinsdag (12/11/204) in die Springbok-landdroshof verskyn.
Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het die gemeenskap bedank vir hul voortdurende ondersteuning as die “oë en ore” van die polisie deur misdade aan te meld.
Hy het onderstreep dat hierdie samewerking die polisie in staat stel om vinnig en doeltreffend op te tree teen misdadigers.
Brigadier Andrews het ook bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), saam met belanghebbendes en gemeenskapslede, ‘n vaste verbintenis het om misdadigers se beweegruimte te beperk en wet en orde in die streek te handhaaf.


