Op Donderdag, 29 Januarie 2026, het die Namakwa Distrik se Departement van Vervoer, Veiligheid en Skakeling, saam met Nababeep SAPD en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), ’n besoek gebring aan Okiep Hoërskool om ’n teenboelie-program vir Graad 8-leerders aan te bied.
Die program is op ’n gepaste en betekenisvolle wyse geopen met gebed deur Me. E. van Wyk, ’n GPF-lid.
Sy het die belangrikheid van respek, empatie en veilige leeromgewings beklemtoon.
d
Die hoofspreker vir die dag was Mev. Eucynia Brandt, wat waardevolle insig gedeel het oor die impak van boeliegedrag en hoe leerders mekaar kan ondersteun.
Sy is opgevolg deur Sersant D. Swartz en Sersant V.A. Cloete, wat praktiese leiding gegee het oor hoe om boelievoorvalle te identifiseer en aan te meld.
Mnr. Dennis Coetzee, voorsitter van die GPF Nababeep, het ook namens die forum gepraat en die rol van die gemeenskap in die beskerming van kinders beklemtoon.
Juffrou Bailey het die leerders toegespreek en genoem dat daar wel ’n boeliebeleid by die skool ingestel is, en dat dit belangrik is dat leerders daarteen waak en mekaar respekteer.
Die veiligheidsverteenwoordigers van die Departement van Vervoer, Veiligheid en Skakeling het elk hul bydraes gelewer en die boodskap versterk dat boeliegedrag geen plek in skole of gemeenskappe het nie.
’n Spesiale woord van dank gaan aan Juffrou L. Jordaan vir haar beskikbaarheid en ondersteuning aan SAPD, asook aan Juffrou Bailey en Mnr. Dommerog vir hul samewerking en betrokkenheid.
Die program het leerders toegerus met kennis en selfvertroue om op te staan teen boeliegedrag en by te dra tot ’n veiliger skoolomgewing.

