Die polisie in die Namakwa-distrik het hul optrede teen dwelmverwante misdaad verder verskerp nadat twee verdagtes Woensdag in Bergsig, Springbok, in hegtenis geneem is.
Volgens ’n mediaverklaring van die kantoor van die distriks-kommissaris het lede van die Openbare Orde Polisie op 8 April verdagte bewegings by ’n bekende dwelmpunt in die Selfbou Skema-gebied opgemerk. Beamptes was omstreeks 10:00 besig met roetine-padblokkadepligte toe verskeie persone gesien is wat die perseel binnegaan en verlaat.
Die betrokke woning is reeds voorheen as ’n moontlike dwelmhuis geïdentifiseer. Weens die risiko dat bewyse vernietig kon word, het polisie ingegryp en ’n deursoekingsoperasie uitgevoer.
Tydens die operasie is dwelms met ’n geskatte straatwaarde van R3 785,56 gekonfiskeer, asook kontant wat vermoedelik uit dwelmverkope afkomstig is.
Twee mans, onderskeidelik 31 en 39 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
