Verdagtes vas vir die besit van bedreigde plantspesies

 Verdagtes vas vir die besit van bedreigde plantspesies

Foto: Verskaf @Noord-Kaap SAPD

Die polisie in die Namakwa-distrik beveg onverpoosd en meedoënloos die onwettige stropery en besit van beskermde plantspesies.

‘n Woordvoerder in die polisie, Kolonel Mashay Gamieldien het bevestig dat die polisie inligting ontvang het van twee verdagtes wat veral in die Richtersveld-omgewing, plante uit die natuur stroop.

Op 23 Maart 2022 het ‘n gesamentlike span bestaande uit Namakwa Misdaad Intelligensie, die Springbok honde-eenheid, Springbok snelwegpatrollie, Springbok Veediefstal-eenheid, die bedreigde spesie-eenheid en die Richterveld Nasionale Park op twee niksvermoedende verdagtes van 30- en 29-jaar oud toegeslaan.

Gemeenskapslede het die polisie ingelig oor onwettige vetplantstropery in die Steinkopf-omgewing, en die geïdentifiseerde perseel is tydens ‘n ontwrigtende aksie deursoek.

“Twee manlike verdagtes is gearresteer en aangekla vir die oortreding van die Noord-Kaapse Wet op Natuurbewaring: Besit van Beskermde plante wat van die Natuur versamel is,” het Gamieldien gesê.

Die polisie het 312 Pelargonium crassicaule plante en 639 Portulacaria pygmaea plante ter waarde van duisende rande gekonfiskeer.

Die konfiskering word as een van die grootstes in die Richtersveld-omgewing beskou.

Gamieldien het gesê dat die waarnemende distriksbevelvoerder van Namakwa, kolonel Skalk Andrews het die span geloof vir hul volgehoue pogings om die onwettige stropery van vetplante in die Namakwa-streek te voorkom en hok te slaan. Hy het ook sy waardering teenoor die gemeenskap uitgespreek vir die aktiewe deelname aan die bekamping en voorkoming van misdaad.

Daar is ook beslag gelê op ‘n Toyota Hilux-enkelkajuit en selfone, aangesien dit vermoedelik in die pleging van misdaad gebruik is.

Die twee buitelandse mans wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn.

Bernadine Hearn

Related post