Namakwa het meer helde nodig om ‘n verskil te maak.

 Namakwa het meer helde nodig om ‘n verskil te maak.

Die tekortkominge en uitdagings binne die onderwys- en gesondheidsektore, word dikwels in ‘n negatiewe lig beklemtoon.

Ellende hou van geselskap, dit is hoekom dit belangrik is om die meer inspirerende stories te vertel.

Stories van die mense wat die ekstra myl gestap het, om te verseker dat daar ‘n beter land en guldiger geleenthede vir die toekoms geskep word.

‘n Dosent by die NCR TVET Kollege Namakwaland Kampus op Okiep, Elroy Van Schalkwyk het die inisiatief van stapel gestuur deur twee motiverende sprekers uit te nooi, vir ’n sessie met die studente.

Die sprekers het oor hul onderskeie professionele velde en die belangrikheid daarvan gepraat. Hulle het ook die studente wenke gegee oor hoe hulle hulself kan verkoop en hoe om voorbereid te wees vir ‘n onderhoud.

Dit was ’n motiverende dog opvoedkundige sessie, waarby studente baie baat gevind het.

Van Schalkwyk het die sessie ge-open met soveel entoesiasme deur die respek vir sy studente en die liefde vir sy werk uit te druk.

Hy wil ‘n verskil maak en hy wil sien dat sy studente sukses behaal.

Sy gaste vir die dag was Rose Ciko, program- en menslike hulpbronne bestuurder by Radio Nfm 98.1, Melvina Mason-Engelbrecht, stigter van Ngwedi Molalatladi en aanbieder van die opvoedkundige geselsprogram Tydloos op NFM en Azelle Engelbrecht van NFM Nuus.

Ciko het haar ondervinding van meer as 15-jaar in die werksoekbedryf met die studente gedeel en hulle toegerus met wenke oor hoe hulle hulself moet gedra tydens ‘n formele onderhoud.

Mason-Engelbrecht het ook haar twee sent kom lewer oor hoe om die werksonderhoud te slaag.

Sy het veral klem gelê op gepaste kleredrag, goeie postuur, oogkantak en selfvertroue.

Verder het sy wenke gedeel soos die belangrikheid van ‘n dekbrief en aansoekvorm, en het die studente aangemoedig om by organisasies aan te sluit en om gedurigdeur nuuskierig te wees.

Studente het agterna getuig oor die impak wat die sessie op hul denkwyse gehad het.

Hiermee wens NFM Nuus aan Meneer Van Schalkwyk, sy kollegas en die studente ‘n produktiewe en suksesvolle akedemiese 2022 toe.

Azelle Engelbrecht

Related post