Verkragter kry 25 jaar tronkstraf

 Verkragter kry 25 jaar tronkstraf

Foto: Verskaf @Noord-Kaap SAPD Sersant Lionel Rooiland

Die waarnemende adjunk-provinsiaal kommissaris vir misdaadopsporing, Brig Nicky Mills het die 25 jaar tronkstraf verwelkom wat David Modise Morolong (46) deur die Postmasburg-streekhof opgelê is vir die verkragting van ‘n 56-jarige slagoffer.

Die beskuldigde was op parool vir ‘n soortgelyke oortreding, toe hy die 56-jarige slagoffer verkrag het.

Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Olebogeng Tawana het bevestig dat op 26 Oktober 2019 omstreeks 20:00 het die beskuldigde met geweld toegang tot die slagoffer se huis bekom en na die bed gegaan waarop die slagoffer en haar 13-jarige seun geslaap het.

Die voorval het in Boichoko in Postmasburg gebeur.

Hy het die slagoffer se seun geklap en hom opdrag gegee om op die vloer te slaap.

Daarna het hy voortgegaan om die slagoffer in die teenwoordigheid van haar seun te verkrag.

Die beskuldigde het die slagoffer by drie geleenthede gedurende dieselfde nag verkrag en is ná die voorval weg.

Die slagoffer het die saak op 27 Oktober 2019 by die polisie aangemeld en die beskuldigde is kort daarna opgespoor en gearresteer.

“Die ondersoekbeampte, sers Lionel Rooiland het borgtog teengestaan en die beskuldigde het in polisie-aanhouding gebly totdat die verhoor afgehandel is en is op 07 April 2022 skuldig bevind,” het Tawana gesê.

Op Dinsdag, 10 Mei 2022 is die beskuldigde op drie aanklagte van verkragting tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Sers Lionel Rooiland is geloof vir die noukeurige ondersoekwerk wat gelei het tot die aanhouding van die oortreder.

Die Postmasburg-streekhof het die beskuldigde onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en ook beveel dat sy naam in die Nasionale Seksuele Oortredersregister ingeskryf word.

Bernadine Hearn

Related post