‘n Man wat van verkragting en seksuele molestering beskuldig word, is gister borgtog geweier in die Kimberley-landroshof.
Ilunga Kalasa – wat hom onder valse voorwendsels dokter gehou het – is aangekla van die verkragting van ‘n 17-jarige pasiënt asook die seksuele aanranding van ‘n 25-jarige pasiënt.
Die aanklagte is intussen saamgevoeg.
Staatsadvokaat Kekeletso Lekota het versoek dat die saak uitgestel word, sodat meer klagtes bygevoeg kan word, en verdere instruksies ontvang word van die Direktoraat van Openbare Vervolging.
Sy het bygevoeg dat hulle ook vir DNS-uitslae wag.
Landdros Natasha Bedford het die saak tot 26 September uitgestel.
Kalasa bly in aanhopuding tot sy volgende hofverskyning.

Bron: DFA News
