Kelvin James Brown, ‘n voormalige polisiebeampte wat in die misdaadvoorkomingseenheid gedien het, is skuldig bevind aan twee aanklagte van verkragting en een van regsverydeling.
Brown is op 18 Oktober 2024 gevonnis, met 25 jaar op die eerste aanklag van verkragting, 10 jaar op die tweede, en ‘n addisionele 5 jaar vir regsveryding. Brown sal sy vonnis sonder die moontlikheid van parool uitdien.
Die slagoffers was onderskeidelik 14 en 17 jaar oud toe die voorvalle plaasgevind het.
Volgens verslae saamgestel deur Maatskaplike Dienste , was die slagoffers lede van Brown se fiksheidorganisasie waar hy hulle as atlete opgelei het.
Tydens die hofverrigtinge is bekend gemaak dat Brown en die slagoffers ‘n hegte verhouding gehad het, wat ‘n gevoel van vertroue geskep het.
Die aand van die voorval het Brown na een van die slagoffers se huise gegaan op soek na haar pa en het haar oorreed om alleen saam met hom te gaan.
Hoewel sy probeer het om te protesteer, het hy haar oorreed en haar na sy gimnasium geneem, waar hy homself op haar afgedwing het.
Verslae dui aan dat albei slagoffers geweldig getraumatiseer is deur die voorvalle en herhaaldelik selfmoordpogings aangewend het.
Hul pleidooi was dat geregtigheid moet geskied sodat hulle op hul geestelike gesondheid kan fokus.
Brown is ook ongeskik verklaar om met kinders te werk en is ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Sy naam sal in die nasionale register van seksoortreders opgeneem word.
