Vedanta Zinc International (VZI) het bevestig dat hulle ’n kennisgewing van die National Union of Mineworkers (NUM) ontvang het oor hul voorneme om op 17 Julie 2025 ’n wettige en vreedsame optog na die Black Mountain Mining (BMM) hoofkantoor in Aggeneys te hou.
VZI sê dit respekteer die grondwetlike reg op vreedsame protes soos bepaal deur die Wet op die Regulering van Byeenkomste, en bly verbind tot oop en konstruktiewe dialoog met NUM, veral oor bekommernisse rondom moontlike uitkontraktering van sekere dienste.
Die maatskappy het ook bevestig dat die “Geen Werk, Geen Betaling”-beleid toegepas sal word op werknemers wat gedurende werksure aan die optog deelneem.
Werknemers in essensiële dienste, soos waterbehandeling, mediese dienste, sekuriteit en ondergrondse pompdienste, mag egter nie aan die optog deelneem nie, soos vereis deur wet en bestaande ooreenkomste tussen VZI en NUM.
VZI doen ’n beroep op alle deelnemers om toe te sien dat enige optrede vreedsaam, wettig en respekvol bly, teenoor kollegas, die gemeenskap en maatskappy-eiendom.
Die maatskappy beklemtoon dat hulle steeds fokus op die handhawing van veilige, stabiele bedrywighede en die bou van ’n volhoubare vennootskap met NUM ten bate van alle belanghebbendes.
