90 Ongedokumenteerde persone vanaf Springbok na Gauteng gedeporteer

 90 Ongedokumenteerde persone vanaf Springbok na Gauteng gedeporteer

Foto: www.saps.co.za

Immigrasie-owerhede is tans besig om 90 ongedokumenteerde persone te deporteer, ná ’n gesamentlike polisie-operasie by myne in die Noord-Kaap se Namakwa-distrik.

’n Woordvoerder vir die polisie, Kolonel Mashay Gamieldien het gesê dat die verdagtes van Springbok af op pad is na die Lindela-repatriasiesentrum in Gauteng, waar hulle sal bly totdat hulle gerepatrieer word.

Die 90 verdagtes is van die 110 mense wat verlede week deur die polisie by verlate mynterreine aangekeer is.

Gamieldien het gesê 104 ongedokumenteerde persone het Vrydag in die Springbok-landdroshof verskyn, op klagtes wat verband hou met die Immigrasiewet.

“90 Verdagtes is skuldig bevind en met deportasielasbriewe gestraf”, sê Gamieldien.

Die arrestasies volg op ‘n twee-dae-lange gesamentlike operasie, gelei deur die Noord-Kaap se waarnemende adjunk-kommissaris vir polisiëring, brigadier Hennie van Rensburg en waarby die polisie, die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, staatsveiligheid, asook die departemente van binnelandse sake en minerale hulpbronne en energie.

Verlate myne soos Kleinzee, Nuttabooi, Bontekoe en Oubeep is tydens die operasie geteiken. Sowat 300 beweerde onwettige mynwerkers is by Nuttabooi aangetref.

Die polisie het beslag gelê op toerusting ter waarde van R3,5 miljoen, waaronder 130 kragopwekkers, 121 jackhammers, vyf voertuie, grawe, beitels, boormasjiene, pikke en slypmasjiene. Dwelms en een vuurwapen is ook gevind en gekonfiskeer.

“Die gesamentlike operasie was daarop gemik om onwettige mynaktiwiteite te staak, onwettige mynwerkers in hegtenis te neem, die identifikasie en verwerking van ongedokumenteerde persone en die konfiskering van mynwerktoerusting wat gebruik is,” het Gamieldien in ‘n verklaring gesê.

“Die polisie, in samewerking met eksterne belanghebbendes en departemente, is tans in die proses om hierdie onwettige mynbedrywighede as ‘n saak van dringendheid aan te spreek,” het sy gesê.

Gamieldien het in Junie gesê die polisie het onwettige mynbou geprioritiseer, “spesifiek in die Namakwa-distrik waar onwettige mynbou oorheersend is”.

Volgens Gamieldien het die polisie tussen 2018 en 2021, 868 arrestasies gemaak vir onwettige mynbou en mynverwante oortredings in die Port Nolloth en die Kleinzee-omgewing.

Marsilino Lapont

http://Marsilino

Catch Marsilino LaPont weekdays between 6am and 9am on Morning Joy! Marsilino is also a radio journalist and news reader for Radio NFM 98.1.

Related post