Die portefeulje-komitee van die nasionale polisiediens sal die Nasionale Vergadering versoek om die SAPD Kimberley-opleidingsfasiliteit wat by die SANW se 3 SAI militêre basis gevestig is, te omskep in ‘n permanente polisie-opleidingsakademie, die enigste in sy soort in die Noord-Kaap.
Die komitee het die fasiliteit oor die naweek besoek om die lewensomstandighede van die polisie se basiese ontwikkelingsleerprogram te assesseer.
Die voorsitter van die komitee, Tina Joemat-Pettersson, het gesê dat die basis as ‘n opleidingsfasiliteit gebruik word om President Cyril Ramaphosa se oproep te ondersteun, “om 10 000 nuwe polisielede te werf om die onredelik hoë polisie-tot-bevolking-verhouding aan te spreek, asook om die bekamping van misdaad te verskerp.”
Volgens haar is daar tans 1 489 leerlinge in Kimberley gestasioneer en die polisie het meer as R117 miljoen begroot vir basiese opleiding insluitend toelaes, verblyf, voedselvoorsiening en ander bykomende uitgawes, vir die tydperk van 1 April tot 31 Desember 2023.
Daar was intussen ‘n groot verbetering in die lewensomstandighede by die basis gerapporteer, terwyl die land ‘n ernstige agterstand ervaar met die werwing van meer “stewels op die grond”.
Die fasiliteit neem tans 700 mense van die Noord-Kaap in diens, terwyl plaaslike verskaffers van spyseniering gebruik word.
Die klem word geplaas op inklusiewe opleiding, waar rekrute toegerus sal word om misdaad te bekamp, asook vir geslagsgebaseerde geweld (GBV), slagofferbemagtiging en kliëntedienste.
In ’n land waar die plaag van geslagsgebasseerde geweld en vrouemoorde, asook kindermishandeling en ontvoering aan die orde van die dag is, is dit nodig om ’n kultuur van sorg en diens in te skerp in die hantering van sake van gesinsgeweld.
