‘n Multi-dissiplinêre operasie wat op Dinsdag, 3 Desember 2024, vroegoggend begin het, het gelei tot die arrestasie van drie vermeende onwettige geldskieters in Brandvlei, Namakwa-distrik.
Die operasie, genaamd NWO ZAK, is uitgevoer deur ‘n span bestaande uit die Nasionale Kredietreguleerders, SASSA, Kimberley Kommersiële Misdaad, Calvinia Speurders, Calvinia Vispol, Springbok Openbare Orde Polisie, Springbok K9, Brandvlei Vispol en Namakwa Distrik Misdaad Intelligensie.
Volgens Kolonel Cherelle Ehlers van die Noord-Kaapse SAPD is die aksies op drie geïdentifiseerde persele uitgevoer, wat gelei het tot die inhegtenisneming van twee manlike verdagtes (52 en 58 jaar oud) en ‘n vroulike verdagte (26 jaar oud).
Tydens die operasie is beslag gelê op groot bedrae kontant, leningsregisters, EFT-masjiene, identiteitsdokumente, Easy Pay-kaarte en bankkaarte.
Die Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, het die span geloof vir hul samewerking en vinnige optrede. Sy het benadruk dat die SAPD met verhoogde sigbaarheid en vasberadenheid ekonomiese misdade, veral gedurende die feesseisoen, sal aanpak.
Die publiek word aangemoedig om enige verdagte aktiwiteite of misdade via die MySAPS-toepassing of by 08600 10111 aan te meld. Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.