Die Noord-Kaap se ekonomiese vooruitsigte sal vandag in die kollig wees, as die provinsiale LUR vir finansies, Abraham Vosloo, sy begrotingsrede vir 2022/23 gaan lewer.
Daar word verwag dat hy ’n gebalanseerde siening sal gee oor of die provinsiale bruto binnelandse produk (BBP) enige groei getoon het, of gedaal het, ná die impak van Covid-19 wat die land se ekonomie die afgelope twee jaar geraak het.
Die Noord-Kaap het – nes ander provinsies – gesukkel met die driedubbele uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid.
Daar word van Vosloo verwag om ‘n duidelike plan aan verskillende departemente voor te lê om kwessies soos die stagnante ekonomie aan te spreek.
Sy begroting kom enkele dae ná premier Zamani Saul se staatsrede (Sopa).
In sy Sopa het Saul gesê die formele sektor het in die derde kwartaal van 2021 sowat 28 000 werksgeleenthede verloor, vergeleke met die derde kwartaal van 2020.
Die neiging is ook in Suid-Afrika waargeneem.
