Mej. Namakwaland gee terug aan bejaardes op haar verjaardag

 Mej. Namakwaland gee terug aan bejaardes op haar verjaardag

Foto: Verskaf Mej. Namakwaland – Elneve de Vries

Die beeldskone jong dame van Steinkopf het nie soos al die ander jong dames gesit en wag vir geskenke nie, sy het sommer self hand in eie boesem gesteek om toiletware in te samel om ‘n verskil in haar gemeenskappe te maak.

Mej. Namakwaland, Elneve De Vries (20) het op Sondag, 06 Maart 2022 haar verjaarsdag op ‘n baie spesiale manier gevier.

As Mej Namakwaland is dit De Vries se plig om deur alles wat sy aanpak, haar gemeenskap te bemagtig.

“Ek het besluit om ‘n uitnodiging te maak, waarin ek alle inwoners in my tuisdorp uitgenooi het, om tandepasta en sepies vir my te bring in plaas van geskenke,” het de Vries gesê.

Sy het die uitnodiging op haar Facebook-blad geplaas sodat almal kon sien dat hulle welkom is om deel te wees van haar uitreikingsinisiatief.

Die projek het voor haar ouerhuis op Steinkopf plaasgevind, waar inwoners die seepies en tandepasta by hul hek gaan neergesit het.

“Met dankbaarheid het ek hulle met koek bederf, wat deur Morstert begrafnisdienste geskenk was, en my ma het die res self gebak” vertel De Vries.

Sy sê ook dat sy verbaas was vir die opkoms van haar gemeenskap.

“‘n Warmte het in my hart opgevlam, elke oomblik wanneer ek iemand by ons hek gewaar het.”

Die sepies en tandepasta gaan sy aan Huis Harmonie op Bergsig oorhandig.

Sy sluit af deur by te voeg dat dit was die beste verjaarsdag ooit en sal dit weer en weer doen.

Bernadine Hearn

Related post