Gyselaardrama laat Noord-Kaapse onderwyser getraumatiseerd

 Gyselaardrama laat Noord-Kaapse onderwyser getraumatiseerd

’n Vermeende bendegewelddrama by die Hoërskool Greenpoint op Kimberley, het leerders en onderwysers getraumatiseerd gelaat.

Dit kom nadat die hoof van die Noord-Kaapse departement van onderwys, Moira Marais, haar skok uitgespreek het nadat een van die onderwysers in een van die klasse deur bendelede gyselaar gehou is.

Sy sê sommige leerders van Hoërskool Greenpoint is deel van bendes in die gemeenskap en hulle het hul kwessies na die skool gebring.

Marais sê die situasie was baie rof, wat daartoe gelei het dat die skool vir ‘n dag gesluit is.

Sy sê amptenare van Noord-Kaap Onderwys het saam met die polisie na die skool gegaan en die situasie onder beheer gebring.

Marais voeg by dat die departement die onderwysondersteuningspan gestuur het om te help met berading van leerders en opvoeders.

Sy voeg ook by dat die opvoeder wat gyselaar gehou is, ‘n sielkundige gaan sien het.

Marais het verder gesê dat die probleem nie uit die skool spruit nie, maar dit is eerder ‘n weerspieëling van wat reeds in die gemeenskap plaasvind.

Sy het by die gemeenskap gepleit om die departement by te staan in die hantering van geweld in skole sodat dit ’n veilige omgewing vir leerders word.

Sy kom tot die gevolgtrekking dat 30 leerders wat by dié bendegeweld betrokke was, geskors is en deur dissiplinêre prosedures geneem sal word.

OFM Nuus

Bernadine Hearn

Related post