‘n Gewapende rower is naby Taung in hegtenis geneem tydens ‘n gesamentlike soektog waaraan die SAPD van die Noord-Kaap en Noordwes provinsies deelgeneem het, met die bystand van ‘n private hommeltuigmaatskappy.

Noord-Kaapse SAPD-woordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, het gesê dat vyf gewapende mans Dinsdag, 15 Oktober 2024, omstreeks 14:00 ‘n snoepie in Bonitapark, Hartswater, beroof het.

Na die voorval het ‘n span, insluitend lede van die Hartswater K9-eenheid, Pampierstad Sigbare Polisiëring, Speurders en Taung SAPD, begin soek na die verdagtes, wat in ‘n rooi Toyota Corolla gevlug het in die rigting van Taung.

“Met die hulp van ‘n hommeltuigsoektog is ‘n 42-jarige verdagte gevind wat in die bosse weggekruip het en is omstreeks 18:00 in hegtenis geneem,” het Ehlers gesê.

Die soekspan, bygestaan deur die Noord-Kaapse SAPD Airwing, het voortgegaan om na die oorblywende vier verdagtes te soek.

Die polisie ondersoek tans sake van besigheidsroof, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die polisie te kontak by 08600 10111 of via die MySAPS-toepassing.

“Alle inligting sal vertroulik hanteer word,” het Ehlers verseker.

Die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het die interprovinsiale samewerking en die ondersteuning van die gemeenskap wat tot die arrestasie gelei het, geprys.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *