’n Massa-inentingsveldtog is van stapel gestuur om ’n hondsdolheid-uitbraak te voorkom ná ’n bevestigde geval wat by ’n Kaapse pelsrob in die Namakwa-kusstreek aangemeld is.
Die hoofdirekteur by die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Mandla Ndzilili, het Maandag (16/09/2024) gesê dringende stappe word geneem aangesien daar ‘n aantal Kaapse pelsrobkolonies langs die Noord-Kaapse kuslyn is.
“Dit is bekend dat die spesie nou interaksie met mense en huisdiere het. Hondsdolheid is ‘n dodelike virussiekte wat deur die byt van ‘n besmette dier aan mense oorgedra kan word. Simptome sluit in gedragsveranderinge, aggressie, oormatige speekselafskeiding, verlamming en uiteindelik die dood. Om die risiko te verminder dat hondsdolheid na mak diere en mense versprei, prioritiseer die departement die inenting van honde en katte in die geïdentifiseerde hoërisikogebiede,” het Ndzilili gesê.
Hy het bygevoeg dat die massa-inentingsveldtog van 16 tot 20 September in die dorpe Hondeklipbaai, Koingnaas, Kleinzee, Port Nolloth en Alexanderbaai sal plaasvind.
“Die departement het 8 000 dosisse entstof toegewys om ‘n geskatte hondebevolking van 4 000 in hierdie gebiede te dek.
“Benewens die inentingsveldtog, werk die departement nou saam met die nasionale departement van bosbou, visserye en omgewing om toesig en monsterneming langs die kuslyn waar robkolonies teenwoordig is, te verhoog. Openbare bewusmakingsveldtogte is ook aan die gang om inwoners op te voed oor die risiko’s van hondsdolheid en die belangrikheid daarvan om hul troeteldiere in te ent.”
Ndzilli het gesê geen menslike gevalle is tot op hede aangemeld nie.
“Die departement neem proaktiewe maatreëls om die verspreiding van hondsdolheid te voorkom en die gesondheid van beide diere en mense in die streek te beskerm,” het hy gesê.
