‘n Voormalige Nababeep-stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Clive Bowers, is van diefstal aangekla nadat kontant uit die kluis by die polisiestasie as vermis aangemeld is.
Daar word beweer dat ‘n beskuldigde teen wie klagte van gewapende roof teruggetrek is deur Bowers bygestaan is om die geld terug te eis.
Die klaer het gesukkel om die geld terug te kry en Bowers het beweer dat die sleutels van die kluis waar die geld by die polisiestasie gebêre was, weggeraak het.
Toe die kluis oopgebreek is, is ontdek dat kontant ten bedrae van R240 000, wat die klaer se R94 000 insluit, vermis word.
Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, brigadier Mashay Gamieldien, het bevestig dat die provinsiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid ‘n voormalige SAPD-luitenant-kolonel op 11 September op aanklag van diefstal in hegtenis geneem het.
“Die beskuldigde het op 11 September in die Springbok-landdroshof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die saak is tot 11 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel,” het Gamieldien bygevoeg.
