Kimberley hospitaal en Smile Foundation gee kinders rede om te glimlag

 Kimberley hospitaal en Smile Foundation gee kinders rede om te glimlag

https://encrypted-tbn0.gstatic.com/images?q=tbn:ANd9GcT8Xk727ok5HpujGApjP5HmjF3UhfUxnYSMXA&usqp=CAU

Sewentien kinders in en rondom Kimberley in die Noord-Kaap, sal vandeesweek ‘n rede hê om helderder te glimlag wanneer hulle korrektiewe chirurgie sal ondergaan.

Hierdie inisiatief word moontlik gemaak deur die Smile Foundation, en operasies gaan uitgevoer word by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal.

Die uitvoerende hoof van die Smile-stigting, Kim Robertson Smith, het gesê die stigting wil nie net die lewens van die geaffekteerde kinders ten goede verander nie, maar wil ook die druk en finansiële las op die skouers van hul gesinne verlig.

“Hierdie gesinne is dikwels nie in ’n posisie om rekonstruktiewe chirurgie te bekostig nie, wat met stewige kostes gepaard gaan wanneer dit by ’n private instelling uitgevoer word. Ons hartlike dankbaarheid en bewondering gaan uit na elkeen van die uitstaande mediese professionele persone by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, die administrateurs, borge, vrywilligers, kollegas en vriende, wat bo en behalwe gegaan het om hul tyd op te offer, lewens te verander en wonderwerke te laat gebeur,” het Robertson Smith gesê.

Een van die kinders wat rekonstruktiewe chirurgie sal ondergaan, is die vierjarige Leandre van Nell, wat brandwonde aan sy bolyf, bene en dye opgedoen het nadat kookwater op hom geval het.

Leandre se tante, Portia Malanya, het gesê hulle is tevrede met die bystand wat haar broerskind van die stigting en die hospitaal kon kry.

“Die Smile Foundation en die hospitaal was ‘n groot hulp vir my nefie. Hulle het hom gedurende hierdie tydperk groot mediese bystand en selfs liefde gegee. Hy wou nooit glimlag nie, maar hy het nou geglimlag toe hy die ander kinders sien,” het sy gesê.

Nog ‘n begunstigde is die 10-jarige Ashton de Bruyn, wat groot brandwonde aan sy regterhand opgedoen het van ‘n pot kookwater toe hy vier jaar oud was.

Ashton is van Victoria-Wes en het reeds oor die jare ná die voorval ’n operasie ondergaan.

Die voorval het plaasgevind terwyl sy ma by die werk was en hy is in die sorg van ‘n oppasser gelaat.

Hy het ook ‘n gewas aan sy linkerhand. Daar word gesê dat die jongeling emosioneel geteister word deur kinders wat hom by die skool afknou en hy voel dikwels dat hy sy hand moet wegsteek wanneer hy in die openbaar is.

Die ma van die nege maande oue Cataleya Pienaar, wat met ‘n tweesydige gesplete verhemelte gebore is, het gesê sy is verheug dat haar dogter nie met die gespot en boelie sal grootword weens haar toestand nie.

“Dit is nie maklik om ‘n kind te hê wat ‘n mediese toestand het nie, maar ek is bly dat my kind die nodige mediese hulp kan kry. Ek sou ook nooit die operasies wat sy ondergaan het kon bekostig nie. Haar lippe is nou vasgebind en sy sal dalk nooit eers weet hoe die dokters te werke gegaan het om haar lip “normaal” te laat lyk nie.”

“Ek het altyd skaam gevoel en mense het ook gevra wat fout is met my kind. Die personeel by die hospitaal het my egter verseker dat daar niks is om oor skaam te wees nie, en dat my kind een van vele is wat met hierdie toestand gebore is. Dit was moeilik in die begin, en my kind sou sukkel om te eet. Die mediese personeel het ons almal regtig baie gehelp,” het sy gesê.

Die Noord-Kaapse LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, het gesê die hospitaal sal sy vennootskap met die Smile-stigting voortsit.

“Ons is bly om saam te werk met so ‘n stigting, wat in staat is om glimlagte op soveel gesigte en harte in die provinsie te bring. Hierdie vennootskap sal van krag tot krag groei,” het Lekwene gesê.

Marsilino Lapont

http://Marsilino

Related post