Verdagte steel R18 000 se eiendom uit ‘n huis op Prieska

 Verdagte steel R18 000 se eiendom uit ‘n huis op Prieska

Foto: Verskaf @Noord-Kaap SAPD

Die polisie op Prieska in die Noord-Kaap het op Dinsdag ‘n verdagte in hegtenis geneem, nadat hy by ‘n huis in 5de Laan ingebreek het.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Olebogeng Tawana, het bevestig dat ‘n lid van die gemeenskap die polisie in kennis gestel het.

Die polisie het dadelik op die klag gereageer en die verdagte wat by die beskrywing pas, was vasgekeer terwyl hy deur die park gestap het.

“Die verdagte was in besit gevind van inbraakimplemente, insluitend die beweerde gesteelde eiendom. Meer as R18 000 se gesteelde eiendom is in die verdagte se besit gevind”, sê Tawana.

Die items het kruideniersware, ‘n kettingsaag, ‘n slypmasjien, boormasjien en ander elektriese gereedskap ingesluit.

Die eienaar van die eiendom was nie tuis tydens die voorval nie.

Sy is egter gekontak en het die eiendom positief uitgeken.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Prieska-landdroshof verskyn, op ‘n klagte van residensiële huisbraak.

Bernadine Hearn

Related post