’n 30-Jarige pa van Kimberley is tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding van sy eenjarige babaseuntjie ná ’n onderonsie met die kind se ouma.
Polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Sergio Kock, sê die baba is bewusteloos gevind nadat die pa die kind tydens die onderonsie op die grond gegooi het.
“Op 28 September 2023, omstreeks 23:30, het die ouma die baba op haar rug gehad toe ‘n woordewisseling tussen die pa en die ouma uitgebreek het. Die pa het die baba van die ouma se rug gegryp en die kind op die vloer gegooi,” het Kock gesê.
“Toe paramedici en die polisie by die toneel aankom, was die baba bewusteloos. Die baba is in die hospitaal opgeneem vir mediese aandag en die pa is in hegtenis geneem.
“Die pa is op 29 Julie 2024 deur die Kimberley-landdroshof tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan geslagsgebaseerde geweld gedurende die tyd van die opskorting nie. Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.”
Kock het bygevoeg dat die ondersoekbeampte geprys is.
“Speurkonstabel Shawn Boer van die Kimberley SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die ondersoek gelei wat tot die skuldigbevinding en vonnis gelei het. Dit is ’n duidelike aanduiding dat misdade wat teen kinders gepleeg word nie geduld sal word nie en speurders sal voortgaan om te verseker dat oortreders voor die hof gebring word,” het Kock gesê.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *