Die Upington-streekhof het die 39 jarige Joseph Setlhalefo tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die wrede aanranding en moord op die ma van sy drie kinders.
Setlhalefo was ook van plan om haar liggaam aan die brand te steek.
Mojalefa Senokoatsane, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê die 24-jarige slagoffer, Christina Tieties, was die beskuldigde se voormalige meisie.
“Op 27 Julie 2007 het Sethlalefo van die werk af teruggekeer en gevind dat sy nie tuis was nie. Hy het na haar gaan soek. Later die aand is gesien hoe hy haar na hul huis toe sleep. Hy het haar in die erf gelos en teruggekeer met ’n plastiekpyp waarmee hy haar aangerand het. Hy het die huis binne gegaan en teruggekeer met ‘n staaldraad waarmee hy haar herhaaldelik oor haar lyf aangerand het. Hy het weer die huis binnegegaan en teruggekeer met ‘n 20 liter-kan water wat hy oor haar gegooi het en toe voortgegaan om haar met die draad aan te rand. Hy het vir ‘n derde keer in die huis ingegaan en hierdie keer teruggekeer met ‘n ketting waaraan ‘n slot vas was. Hy het haar verskeie kere met dié apparaat aangerand, terwyl sy hom gesmeek het om op te hou en in angs om hulp van die ooggetuie geskree het,” het Senokoatsane gesê.
Hy het bygevoeg ’n getuie het getuig dat hy nie ingegryp het nie uit vrees om self aangerand te word.
“Die getuie het vertel dat die beskuldigde ‘n gewoonte gemaak het om die oorledene aan te rand, veral oor naweke. Die slagoffer is destyds beskryf as sterk onder die invloed van alkohol en kon nie die aanval op haar weerstaan nie. Sy het probeer om die wrede aanranding te ontsnap deur na die stoep te kruip, maar die beskuldigde het haar geskop elke keer as sy probeer beweeg het.
“Op ‘n stadium het die beskuldigde ook probeer om ‘n stuk papier aan te steek en die getuie gevra om petrol te kry om die liggaam van die oorledene aan die brand te steek. Hy was nie suksesvol in hierdie poging nie.”
Senokoatsane het gesê dat Tieties se lewelose, gekneusde liggaam die volgende oggend in die huis ontdek is nadat Setlhalefo berig het dat hy haar nie kon wakker maak nie en beweer dat sy ‘n “seizure” gehad het.
“Die saak is by die polisie aangemeld en die beskuldigde is gearresteer. Die beskuldigde is op borgtog vrygelaat, maar het vir nege jaar gevlug. Toe hy weer in hegtenis geneem is, het hy sy identiteit ontken aangesien hy onder ‘n ander naam gewoon het. Die SAPD kon deur vingerafdruktegnologie aan die hof bewys dat hy inderdaad dieselfde persoon is wat vir die wrede moord op Tieties gepleeg het.”
Hy het bygevoeg dat weens die ontydige dood van die streeklanddros in 2022, verhoorverrigtinge weer voor ‘n ander landdros moes begin.
“Slagoffer-impakverklarings is deur die oorledene se ma en een van haar kinders aan die hof verskaf, wat eerstehandse inligting oor die emosionele, fisieke en finansiële gevolge van die misdaad verskaf het.”
Senokoatsane het verklaar dat die staatsaanklaer, Ramosa Ramothepane, tydens vonnisverrigtinge aangevoer het dat die beskuldigde die familie van ‘n ma en dogter beroof het weens sy “lafhartigheid en monsteragtige daad”.
“Hy het aangevoer dat dit uit die verklarings blyk dat die gesin onherstelbare emosionele en sielkundige pyn sowel as finansiële verlies gely het. Die ouma is gelos om die kinders groot te maak sonder finansiële ondersteuning.
“Hy het verder aangevoer dat die hof ‘n onomwonde boodskap moet stuur wat aantoon dat ons howe die heiligheid van menselewe en die waardigheid van vroue in die samelewing waardeer. Hy het 00aangedring dat die maksimum vonnis opgelê word vir persone wat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoordmisdade pleeg.”
Senokoatsane het gesê die hof het Setlhalefo tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis en bevind dat hy geen genade moet verwag nie, aangesien hy nie berou het nie en geen inagneming teenoor die oorledene getoon het nie.
“Die Nasionale Vervolgingsgesag hoop dat hierdie vonnisse ‘n mate van geregtigheid en afsluiting aan die slagoffers sowel as hul gesinne sal bied, aangesien die oortreders van hierdie geweldsmisdade uit die gemeenskappe verwyder word,” het hy bygevoeg.
